Phillru van Achterbergh

Phillru van Achterbergh het Drama en Film aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) studeer, en word in 2012 die eerste student wat al drie top TUT-toekennings verower onder andere as die Beste Drama Student. Na universiteit maak Phillru sommer dadelik sy buiging op die professionele verhoog met rolle in die kinderproduksie Liewe Heksie en sy eerste Lefra-klug, My Vrou se Man se Lyk se Tas, waar hy die rol van Boris vertolk. Hy maak ook sy verskyning in die klugte My Boetie se Boetie se Baba en Daa’ Gaat die Bruid, en tree op as assistent-regisseur vir My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou. Hy word ook gesien in BINNELANDERS in die rol van die dwelmsmous, Clint Erasmus. In 2016 word hy genomineer vir ‘n Naledi-toekenning vir sy rol as Andrè Myburg in die produksie Porselein en wys hy verder sy staal as ernstige akteur in die rol van Benjamin Koemoetie in die verhoogproduksie van Fiela se Kind. Phillru is nie net ‘n akteur nie en in 2017 begin hy sy eie maatskapy, Imagine That! Entertainment. Hy was die skrywer, regisseur en vervaardiger van beide die produksies Die Laaste Mango en Light Warrior wat by Aardklop- en die Wêlakapêla-kunstefeeste te sien was. Hy is ook die mede-eienaar van Sessions Entertainment wat musiektoere reël na Ponta do Ouro en Tofu in Mosambiek en Windhoek en Swakopmund, Namibië, en is ook mede-organiseerder van Bushrock Music Festival in Bela-Bela en die Skopgrond Music Festival by die Roodeplaatdam.