Frans Swart

GROET DIE GROTMAN hou steeds die rekord vir die Afrikaanse teaterproduksie wat die meeste vertonings oor die langste tydperk gehad het … meer as 1 000 vertonings oor 10 jaar! Lefra het die Grotman nou vir die afgelope agt jaar laat rus in sy grot … tjoepstil! Maar toe vanjaar spring daar ‘n nuwe Grotman uit wat sê: “Hier is ek weer. Ek is uit my grot uit en het baie nuwe stories om te vertel! Dis 21 jaar later! Ek en Elize is steeds baie gelukkig getroud, die kinders is tieners en presteer baie goed op skool, ons het al paar keer aan ons huis aangebou. Met my en Elize se loopbane gaan dit baie goed. So ons is baie gelukkig! MAAR, die verskille tussen mans en vrouens is steeds daar! Mans is steeds van Mars en vrouens steeds van Venus!” Groet die Grotman 2 gaan in wese net oor die verskille tussen mans en vrouens. Komiese verskille. Verskille wat paartjies partykeer die hel in vir mekaar maak. Maar snaaks genoeg as mens jouself so komies op die verhoog sien, is dit eienaardig hoe mans en vrouens vir MEKAAR lag. En sommer weer van vooraf verlief is op mekaar. Wat maak dit tog saak as die tandepasta se doppie nie op is nie of Grotman wat nie die toilet se sitplek laat sak nie. Ja daar is baie van my en my vrou Hannelie in die storie – natuurlik heeltemal verdoesel in die verloop van die verhaal. Maar baie van die stories is bloot net deur waarneming geskep en met artistieke vryheid aanmekaar geskryf. Phillru van Achterbergh het as jong akteur sy tande by Lefra kom slyp in die klugte soos MY VROU SE MAN SE LYK SE TAS, en DAA’ GAAT DIE BRUID. Daar het regisseur, Frans Swart, hom al raakgesien as briljante komiese speler. “Sy komiese tydsberekening is perfek en dan het hy die vermoe om enige karakter ongelooflik goed te vertolk. Dit was net ‘n logiese keuse dat Wynand die volgende Grotman moes wees.